Deur Hanti Otto
09 Februarie 2017 08:44
Foto: Deaan Vivier

Johan Van Nieuwenhuizen glimlag amper so breed soos die dag toe ’n onbekende motorfietsryer hom teen ’n opdraand uitgestoot het.

Gesoek: ’n ridder op ’n blou superysterperd met ’n GoPro-kamera op sy valhelm.

Inwoners van Centurion wil weet wie dié man is nadat sy spontane uitreik ’n fietsryer, en almal wat die verhaal hoor, met warm harte en breë glimlagte laat.

“Ek het soos ’n klein seuntjie gelag van die pret,” sê Johan van Nieuwenhuizen stralend oor sy avontuur.

Die soektog na die geheimsinnige motorfietsryer het reeds op 1 Februarie begin, maar ten spyte daarvan dat baie mense op sosiale media by die soektog betrokke geraak het, bly die motorfietsheld net ’n skim.

Van Nieuwenhuizen het op die Facebookblad, People who live in Centurion (PWLIC), geskryf: “Hi Centurion, wil net iets met julle deel wat my vandag laat lag het. Ek ry altyd fiets werk toe . . . Maar vandag was anders.

“Ek het gery en by ’n opdraend gekom. Uit die bloute het iemand op ’n motorfiets langs my gestop en gesê: ‘Let’s go!’

“Toe sit hy sy een hand op my rugsak en stoot my tot bo op die bult!

“Ek het soos ’n kind gelag! Ek weet nie wie jy is nie, meneer, maar dankie! As jy op die groep is, stuur asseblief vir my ’n boodskap sodat ek die persoon kan ontmoet wat uit sy pad gegaan het om my te help”.

’n Vloedgolf van kommentaar het gevolg.

Verskeie mense het beaam hoe die vertelling hulle laat lag het, met een wat byvoeg: “Daar is steeds hoop vir ons nasie”.

Dit het net een aanmoediging geneem van: “Come, guys, share this story until we find this kind guy on the blue bike,” toe begin die soektog op Facebook.

Die volle storie, sê Van Nieuwenhuizen, is dat sy fiets sy vervoermiddel is en hy daagliks die roete na sy werk as bestuurder by Ed’s Diner in Centurion trap.

“Ek het daardie Woensdag in die noodbaan gery. Die motorfietsryer het in daardie baan ingedraai, langs my.

“Ek het maar bly trap, want die bult was voor my. Die motorfietsryer het stadiger gery. Ek dog toe hy wil dalk iets sê en het my een oorfoon gelig toe die ou na my kyk”.

DIE MOTORFIETSRYER SE ENIGSTE WOORDE WAS: “LET’S GO!”
Die motorfietsryer se enigste woorde was: “Let’s go!”

“Toe sit hy sy een hand op my rugsak, met die ander een bestuur hy sy motorfiets en hy gee vet! Hy het my so gestoot tot waar ek moes afdraai werk toe”.

“Dit was so ’n ervaring, as ek nie ore gehad het nie, was my smile reg rondom my kop. Dit was die laaste ding wat ek verwag het,” het Van Nieuwenhuizen laggend gesê.

Met ’n “cheers” is die motorfietsryer weg.

Van Nieuwenhuizen was dankbaar, want “ ’n mens is maar moegerig as jy bo kom”.

Michelle Shado van Zyl, administrateur van die PWLIC-Facebookblad, het onder lede se aanmoediging Van Nieuwenhuizen se storie begin versprei.

“Johan se plasing was een van daardie goedvoelstories wat sy merk op almal gemaak het.

“Ek dink sy seunsagtige blydskap en opgewondenheid toe hy die verhaal oorvertel het, het baie met ’n glimlag en verlange na kleintydpret gelaat.

“Ons is nogal teleurgesteld dat ons nog nie die motorfietsryer opgespoor het nie,” sê sy.

Van Nieuwenhuizen wil die persoon wat sy dag gemaak het, ontmoet, want: “Daardie biker het letterlik sy hand uitgesteek en gehelp. Daar is nie baie sulke mense nie”.

Source: Beeld